Vriende van ons in Stellenbosh. Geniet dit
Spreker: Hennie Terblanche
Intimiteit bewerk Outoriteit
13 Julie 2008
_____________________________________________________________________________
Waarop is jy vanoggend gefokus? Ons kan soms so op verskillende goed fokus dat ons belangrike goed mis. Voor die vakansie het ek ’n baie belangrike ding gesê en ek wil vanoggend daarby aansluit. Ek het gesê dat soos ons hier sit is almal van ons betrokke in ’n oorlog. Baie keer, in die geregtigheidsboodskap, het ons amper die geestelike oorlog half ontken omdat ons só op die oorwinning gefokus het. Daar is ’n vyand wat wil kyk hoe hy jou kan vernietig en dit gaan alles oor jou hart. Hoe die vyand besit kan kry van jou denke en jou wese. Die liggaam van Christus is in ’n groot krisis. Weet julle hoeveel mense, kinders van die Here, word daagliks met die naam van die Here op hulle lippe, vermoor?
Ek praat hierdie week met Neville Norden. Hy was sommer sterk op my hart en ek bel hom. Hy was by ’n begrafnis en hy vertel my dat dit nou die vyfde ou in sy kerk is wat doodgeskiet is. Hulle het iemand langs die kerk vermoor. Hy sê dat dit chaos is in Gauteng. Hatfield, een van die grootste kerke in Suid-Afrika se leier se vrou het van ’n brug af gespring en selfmoord gepleeg. As ek julle vertel wat in die liggaam van Christus aan die gang is, dan is dit tyd dat ons ons oë moet oopmaak en besef ons is in ’n oorlog en daar is ’n vyand wat wil kyk hoe hy net meer en meer grondgebied kan kry.
Ek sê nou ’n rowwe ding, maar in die Wes-Kaap is ons nog aan die slaap. ’n Ou wat in Transvaal in die bediening is, het eendag hier by my gekuier. Hy het ’n heel ander iets hier in die Wes-Kaap ervaar. Hy het ervaar dat ons nie ernstig oor die Here is nie en daar nie ’n ywer vir die Here hier is nie. Daar by hulle, as hulle vra dat hulp nodig is, moet hulle tien, twintig mense wegwys. Hier onder by ons moet jy die mense soebat en dan is daar net twee of drie wat help. Betrokkenheid in die liggaam van Christus en die ondersteuning aan mekaar is maar min. Hy vra toe wat fout is? Ek kon hom nie antwoord nie. ’n Week later sit ons en drink weer koffie en hy sê dat hy agter gekom het dat ons nog te ’n gemaklike lewe het. In ons straat sou daar dalk so een persoon wees wat al beroof is of dalk fisies ge-“hijack” is, maar by hulle sal daar dalk net een wees met wie dit nóg nie gebeur het nie. Dié mense daarbo besef dat hul iewers bymekaar moet staan en iewers moet begin om die beginsels toe te pas. Ek dink hy het ’n groot punt beet. Ons moet vandag besef dat daar ’n stryd is. Hoeveel is hierdie week, met die naam van Jesus op hul lippe, vermoor? Met die naam van Jesus op hulle lippe is hulle gediagnoseer met kanker, is dood, is beroof, is ge-“hijack”, is verkrag? Hoeveel daarvan gebeur oor en oor en oor? Dit lyk of die golf net erger en erger raak. Dit lyk of daar net ’n groter momentum is en ons sit en as jy luister waarmee die mense hulle besig hou en waarvan hulle praat, dan sê ons mos nou al lankal dat ons dit verstaan.
Ek wil vandag vir julle sê ek hoop hier gebeur iets in ons denke dat ons sal besef dat net ons hierdie vloedgolf van wat ons beleef en wat ons hoor en wat ons sien, kan stop. Nie God nie, net ons, en nie omdat Hy nie die vermoë het nie, nee, omdat Hy gekies het om ons as kanale te gebruik waardeur Hy dit wil stop. Hy wil dit doen, maar deur my en jou. Salmon het die afgelope twee weke gepraat oor die koninkryk wat moet kom en dat dit ons is wat dit moet laat kom. Daarom wil ek vir julle vandag sê dat daar ’n oplossing is. Daar is beslis iets wat ons kan doen om die gety te draai.
Salmon het verlede week met julle gepraat oor intimiteit om die koninkryk te kan beleef. Om die beginsels van die koninkryk te kan beleef moet daar intimiteit wees. Intimiteit is nie net stiltetyd waar jy jou Bybel lees en jy ’n tydjie met die Here spandeer nie. Intimiteit praat van ’n verhouding en dit wat ek bedink, dit wat ek doen en praat. D.w.s. my hele wese. Hoe meer daar intimiteit is tussen twee persone, hoe groter is die verstaan, hoe groter is die ontwikkeling van die verhouding. Daar is ’n vertroue en ’n vrymoedigheid. Daar is ’n klomp goed wat toeneem in intimiteit en ek en jy bepaal dit. Hoe meer ons in intimiteit met God stap hoe meer word sy koninkryk gevestig. Sy koninkryk is beskerming, voorsiening, genesing ens. Dit is wat Hy gesê het wat ons moet vestig, maar dit gaan absoluut daaroor dat ek en jy sal moet besef dat daar ’n verantwoordelikheid is.
Orals waar ek kom en praat sien ek dat daar groot behoefte is na: “Is daar iets wat ons kan doen of is dit nou maar soos die kerk dit gedoen het? Berusting en aanvaarding, want ons is nou in die laaste tye en dit sal nou maar moeilik wees en ons moet maar net berus.” Ek het net weer besef: “Nee.”
Ek het ’n verhaal in die Bybel gaan lees en dit is nie net ’n storie nie. Die probleem is dat ons te veel stories hoor en ons hoor dalk te veel van die waarhede en ons sien dit as stories, want ’n storie is mos net iets wat vertel word.
Ek gaan die ware verhaal, die getuigskrif van Dawid se belewenis, vir julle voorhou. Julle moet sien dat daar niks anders in Dawid se belewenis is nie, geen verskil van dit waarvoor ons vandag staan nie.
As jy nou in 1 Sameul 17 gaan lees sal jy sien dat die volk in die moeilikheid was, want die Filistyne het aanspraak gemaak op grondgebied en daar was ’n oorlog. Nou moet julle onthou dat ons praat van die volk van God, die uitverkorenes. Die wat sit met die verbond en wat hulle verbind aan ’n God wat gesê het dat Hy nie lieg nie. As Hy sy Naam aan jou verbind het, kan Hy nie lieg nie. Hy moet doen wat Hy sê. Nou sit hierdie verbondsvolk met ’n leier. Kom ek lees vir julle hoe het hierdie leier gelyk.
1 Sam. 9:2
En hy het ’n seun gehad met die naam van Saul, ’n jongman en mooi gebou, ja, daar was onder die kinders van Israel geeneen mooier as hy nie: van sy skouers af boontoe was hy hoër as die hele volk.
Hierdie leier was die langste en grootste van almal. Hy was die leier van die weermag van Israel wat nou teen die Filistyne moet gaan staan. Hy is hulle geestelike leier en onthou, hy is deur God aangestel. Hierdie ou staan dus op outoriteitsgrond, maar wat vind ons uit. Die manne hang al vir veertig dae in die berge rond, vasgevang in vrees. Ek wil hê dat julle hierdie Israelse volk nou net so oortrek na die liggaam van Christus vandag en dan sien julle hoeveel ooreenkomste daar is. Dit is eintlik maar presies dieselfde. Hoeveel geestelike leiers is daar wat geestelike standpunte inneem, maar as jy kyk na die liggaam van Christus, dan is die liggaam van Christus vasgevang in vrees. Hoekom? Want daar is ’n Goliat wat gil. Of dit nou die ekonomie is, of die inflasie, of die petrol prys is, of wat ook al, daar is ’n Goliat wat gil. Wat gebeur? Die Israeliete kruip weg en hulle is bang.
1 Sam. 17:8,9,10,11
En hy het gaan staan en roep na die slagordes van Israel en vir hulle gesê: Waarom trek julle uit om jul in slagorde op te stel? Is ek nie die Filistyn, en julle dienaars van Saul nie? Kies vir julle ’n man uit, dat hy na my toe afkom.
As hy teen my kan veg en my verslaan, sal ons julle slawe wees; maar as ek hom oorwin en hom verslaan, moet julle ons slawe wees en ons dien.
Verder sê die Filistyn: Ek daag die slagordes van Israel vandag uit! Gee my ’n man, dat ons saam kan veg.
Toe Saul en die hele Israel hierdie woorde van die Filistyn hoor, was hulle verskrik en baie bevrees.
Ons het hierdie storie al baie gehoor, maar hier is Saul, ’n afgevaardigde van God self. Hy staan in ’n verbond met die almagtige God van die univers. Hierdie God is aan sy kant, maar wat gebeur? Toe hulle Goliat hoor was hulle bevrees en hulle het weggekruip. Ons sou dink dat Saul ’n lafaard is, maar voor ons Saul kan “judge” vra ons: “Hoe lyk die liggaam van Christus?” Ons staan in ’n baie beter verbond as Saul, met baie beter beloftes en met groter oorwinnings, maar hoe lyk die liggaam van Christus vandag? Hoeveel van ons wat hier sit is vasgevang in vrees? Veral as mense praat van moord praat. As ek met mense gesels hoor ek net hoe bespreek die ouens die feite en realiteite. Mense kan nie meer uitgaan nie en in hulle eie huise is hulle gevange. Die een predikant vertel my dat as hy vleisbraai, dan sit hy sy vleis op die kole en as hy iets in die huis gaan haal, dan sluit hy eers die staalhek oop en as hy uitkom sluit hy weer alles agter hom en dan braai hy alleen buite, want hulle is so bang iemand spring oor die muur. Dit is feite en realiteite en ons kan nie daarvan wegkom nie. Iewers moet ons nou wakker skrik, want ons staan net soos ’n Saul in ’n verbond met ’n lewende God, ’n waarmaker van sy Woord, maar die vet weet, die feite en die realiteite heers.
Saul-hulle was baie bevrees, ook sy manskappe wat by hom was. Kom ons kyk bietjie hoe het die manne gelyk wat saam met Saul was. Samuel het gegaan om vir Dawid as koning te salf en hy kom by Isai. Toe hulle sy seuns roep en Samuel sien vir Eliab sê hy:
1 Sam. 16:6,7
Toe hulle inkom en hy Elíab sien, dink hy: Gewis, hier staan voor die HERE sy gesalfde! (M.a.w. dit is ’n groot man.)
Maar die HERE sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.
Dawid was daar eenkant en hy pas skape op terwyl sy broers op die slagveld is. Hy moes kort kort vir sy broers kos vat op die slagveld. Toe hy daar kom beleef hy wat in daardie kringe aangaan. Hy besef iets is nie lekker nie en die ouens vertel hom van hierdie Goliat wat die Israeliete uitdaag. Hulle vertel hom net hoe groot en sterk hy is. Hulle vertel hom ook wat die koning die man belowe het wat vir Goliat verslaan. Wat sien Dawid? Hy sien dat hy eintlik ’n juniortjie is. Hier is Saul, die man van God; hier is sy broers, hierdie groot manne; hier is die slagorde van Israel wat dieselfde God as hy het, maar wat sien hy? Hy sien hierdie manne is in vrees vasgevang. Hulle is bang en terwyl hy daar staan hoor hy Goliat onder in die vallei skree. Wat is Dawid se reaksie?
1 Sam. 17:23,24
En terwyl hy met hulle spreek, kom juis die baasvegter—Góliat is sy naam, die Filistyn uit Gat—uit die slagordes van die Filistyne op en spreek daardie selfde woorde, sodat Dawid dit hoor.
Maar toe al die manne van Israel die man sien, vlug hulle vir hom weg, want hulle was baie bang.
Kry gou hierdie prentjie. Hier staan Dawid en hy is opgewonde, want hy is uitgesorteer oor die Here en sy vermoë. Nou staan hy tussen hierdie groot gevegsmanne en soldate en die volgende oomblik skree Goliat in die vallei. Toe Dawid hom kom kry, staan hy stoksiel alleen. Hier hardloop al daardie krygers wat in die Naam van God daar staan, weg. Dawid kan nie verstaan wat daar aangaan nie.
1 Sam.: 17:26
Daarop het Dawid die manne wat by hom staan, gevra en gesê: Wat sal met die man gebeur wat hierdie Filistyn verslaan en die smaad van Israel wegneem? Want wie is hierdie onbesnede Filistyn, dat hy die slagordes van die lewende God durf uitdaag?
Daar begin ’n “boldness” in Dawid opstaan. Voor hom staan ’n onbesnede Filistyn. Dit beteken dat Goliat nie eers in ’n verbond staan met ’n lewende God nie. Hy is ’n heiden en hy het geen fondasie waarop hy kan staan nie. Wie is hy nou om God uit te daag? Terwyl Dawid nou hierdie dinge vra kom Eliab, sy groot broer wat so uitstaan bo die ander manne, en toe hy sy kleinboet daar sien staan en Dawid hoor praat, toe raas hy, want hy voel minderwaardig. Hy wat hierdie geestelike reus behoort te wees, na wie Dawid eintlik moet opkyk, is een van die ouens wat in die grotte wegkruip. Die oomblik as die Filistyn skree, dan hardloop hulle weg. Dawid bly staan en hy is verbaas oor sy broers se reaksie.
1 Sam. 17:28,29
Toe sy oudste broer Elíab hom met die manne hoor spreek, het Elíab baie kwaad geword vir Dawid en gesê: Waarom het jy eintlik afgekom, en aan wie het jy daardie klompie kleinvee in die woestyn afgegee? Ek ken jou vermetelheid en die boosheid van jou hart, want jy het afgekom om die geveg te sien.
En Dawid sê: Wat het ek nou gedoen? Ek vra maar net.
Neem hierdie stuk en kyk na die liggaam van Christus en dan sien julle hoe dunvellig, “touchy” en krities die liggaam van Christus is. Hulle sal in mekaar se hare vlieg, mekaar slegsê, mekaar ondermyn en mekaar in die rug steek. Hulle sal enige iets doen, net om nie betrokke te wees om daardie Goliat te “face” nie.
Hier sien ons hoe Dawid daar staan en sê: “Wat het ek nou gedoen? Ek vra maar net.”
Die vraag wat hy vra wil niemand egter hoor nie, want sy vraag ontbloot ’n Filistyn wat geen outoriteit het nie. ’n Filistyn wat geen fondasie het nie en ’n Filistyn wat eintlik magteloos is as jy besef wie jy is. Dit is wat sy vraag doen en hulle hou nie van daardie tipe vrae nie.
As ons daardie tipe vrae in die liggaam begin vra bv.: Wanneer gaan jy begin opstaan in jou outoriteit of in jou identiteit in Christus? Wanneer gaan jy begin opstaan vir die karakter van God? Die liggaam hou nie van daardie vrae nie, want dit ontbloot die posisie waarin ons is.
Ou Dawid kyk sy broer so en hy steur hom nie aan hom nie en hy sê: “Manne, daardie is ’n vulletjie.” Weet julle hoekom hy so sê? Hoor gou wat het God gesê voor Dawid gesalf is.
1 Sam. 16:7
Maar die HERE sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.
Mense kyk na die feite en realiteite, maar God kyk na die hart, want daaruit is die oorsprong van die lewe. Dawid kyk nie na Goliat en sien hoe groot hy is nie, nee, hy sien wat in sy hart is. Dawid het ’n onverdeelde hart vir God gehad. Hy het nie omgegee wat die feite en realiteite is nie. Dit is wat die liggaam van Christus in ons dorp en ons land nodig het. ’n Dawid wat nie kyk na die ekonomie, of inflasie, of geweld of al hierdie bedreigings nie, maar wat uitgesorteer is oor sy hart, oor sy Pa en oor sy intimiteit met God.
Saul sit natuurlik benoud in sy tent, want as hy hoor die Filistyne is daar dan raak hy besig met ander dinge. Hy was eintlik een bol senuwees tot hy hoor dat daar iemand is wat die moed het om Goliat aan te vat.
Toe Saul voorheen bedreig was deur ’n bose gees, het hy iemand gesoek wat hom kon help en toe bring hulle vir Dawid na hom toe. Elke keer as Saul benoud was, het Dawid vir hom op die siter gespeel, maar toe Dawid met Goliat se kop daar aangestap kom, toe ken hy hom nie eers nie. Hy het nie omge wie die persoon was nie, solank hy net iemand kon kry met “guts”.
Kyk wat sê Dawid vir Saul toe hy hom sien:
1 Sam. 17:34,35
Maar Saul het Dawid geantwoord: Jy kan nie na hierdie Filistyn gaan om teen hom te veg nie, want jy is ’n seun, en hy is ’n krygsman van sy jeug af.
Daarop sê Dawid aan Saul: U dienaar het vir sy vader die kleinvee opgepas, en as daar ’n leeu of ’n beer kom en ’n stuk kleinvee uit die trop wegdra,
dan gaan ek uit agter hom aan en verslaan hom en ruk dit uit sy bek uit; en as hy my aanval, gryp ek hom aan sy baard en verslaan hom en maak hom dood.
Dawid is ’n klein mannetjie wat sy skaap van die leeu terugvat en as die leeu hom opruk en wil teësit dan gryp hy hom aan sy baard en maak hom sommer dood.
1 Sam. 17:36
U dienaar het die leeu sowel as die beer doodgeslaan, en met hierdie onbesnede Filistyn sal dit gaan net soos met een van hulle, omdat hy die slagordes van die lewende God uitgedaag het.
Dawid sien duidelik iets anders en hy dink duidelik op ’n ander vlak. Hy het ’n heel ander opinie van wat daar aangegaan het. Dit is die tipe gesindheid wat ons in die liggaam van Christus nodig het. Iemand wat in hierdie tyd waarin ons staan, duidelik op ’n ander vlak begin dink en anders begin sien en voel oor die saak en regtig waar vir God erken vir wie Hy is.
As jy verder lees, sê hy:
1 Sam. 17:37
Verder sê Dawid: Die HERE wat my gered het uit die klou van die leeu en uit die klou van die beer, Hy sal my red uit die hand van hierdie Filistyn. Toe sê Saul vir Dawid: Gaan, en mag die HERE met jou wees!
Saul is so opgewonde, want vir die eerste keer is hy nie meer so bang nie, want hier is nou ’n man wat bietjie moed het.
Al wat Dawid sê is dat dit wat jy al beleef het, niks is in vergelyking met dit waardeur hy al is nie. Jou hele lewe is ’n opleiding, want daar is altyd ’n groter uitdaging. Dawid het nie net daar by die skape gesit en harp speel nie, hy het slingervel gegooi en geoefen, maar hy was ook besig met intimiteit met die Vader. Hy het met sy hemelse Pa gepraat en agter sy skape aangestap en hy het God vereer en God verheerlik. Hy was uitgesorteer. Ek lees gou die getuienis wat die ouens van Dawid gegee het.
1 Sam.16:18.
Kyk ek het ’n seun van Isai, die Betlehemmiet gesien wat kan speel en hy is ’n dapper krygsman wat wel ter tale en mooi gebou is en die Here was met hom.
Dawid het tyd met die Here spandeer en dit is waar sy krag lê. Sy fokus was op die krag van God.
Nou sit die liggaam van Christus na ons twee weke gehoor hoe om die koninkryk van God te vestig en hoe om God se goedheid en guns in hierdie land te vestig, maar daar staan ’n Filistyn, ’n vyand, teen ons wat die slagorde van God uitdaag en waarmee is die liggaam van Christus besig? Ons hou ons besig met werk, met dit en dat en ek het soveel goed wat my besig hou ek kan nie opstaan teen hierdie vyand nie. Presies soos Israel se weermag.
Saul trek toe vir Dawid sy klere aan, maar hy het dit uitgetrek, want dit was te ongemaklik. Hy stap toe af en tel vir hom vyf klippies op en weet julle wat? Hierdie mannetjie het ’n onverdeelde hart gehad. Hy het nie gestap en gewonder en gedink dat hy nou grootmond was nie. Hoekom nie? Want hy was ingeoefen in God se vermoë. Hy het dit daar in sy werkplek ingeoefen. Ek wil jou uitdaag, daar by jou werkplek waar jy die meeste aanvalle gaan kry, daar waar jy besig is met die mense met wie jy te doen kry, daar moet jy jou begin inoefen om te kan sê: “Nee, ek verteenwoordig die slagorde van God. Ek verteenwoordig die Naam van Jesus en in die Naam van Jesus lê daar krag.”
Dawid was ingeoefen en sy hart was onverdeeld.
2 Kron. 16:9
want die HERE—sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is; hierin het u dwaas gehandel, want van nou af sal daar oorloë teen u wees.
Wat beteken onverdeeldheid? Dit beteken dat daar nie plek is vir iets anders nie. Daar is nie plek vir twyfel, ongeloof of vrees nie. Is dit moontlik om daar te kan kom? Natuurlik. Dit hang af van jou intimiteit, want intimiteit bevorder outoriteit en net ek en jy bepaal daardie intimiteit.
Ek kan my nie indink wat deur Goliat se kop gegaan het toe Dawid aangestap gekom het nie. Dink vir jouself wat se bespotting was die Israelitiese weermag. Dit is skrikwekkend. Dink bietjie wat se bespotting is die liggaam van Christus vandag vir die wêreld, want al wat ons praat is: “O..., God kan, want God is liefde. Hy kan jou genees. Hy kan voorsien. God kan beskerm,” maar met die Naam van Jesus op ons lippe, sterf daar meer Christene as heidene in hierdie land. Hoekom? Ons het ’n bespotting geword, want ons praat een ding, maar ons hardloop en kruip weg.
Dink vir jouself hoe het die Israeliete vir die Filistyne gelyk. Hulle sit daar op die kliprandjies en kyk na die Israeliete en as Goliat daar afstap, dan sien hulle hoe hardloop die manne om weg te kruip agter bosse en klippe. Dit is die volk wat verkondig het dat hulle in die Naam van hul Hemelse Vader optree. Die Filistyne sien dat hulle niks het nie. Ek is dalk nou baie lelik en hard en ek sluit myself in, maar as die wêreld na ons kyk... Ons hou lang debatte oor God se vermoë en oor genesing en voorsiening, maar weet julle wat, die wêreld is moeg daarvoor. Die wêreld wil dit begin sien.
Hier staan Dawid en Goliat is eintlik verontwaardig, want hy is dan hierdie monster.
1 Sam. 17:43
En die Filistyn vra vir Dawid: Is ek ’n hond dat jy met stokke na my toe kom? En die Filistyn het Dawid vervloek by sy gode.
Goliat het respek verwag, want dit is wat hy nog altyd gekry het. As hy praat dan hardloop en buig die mense. M.a.w. daar is ’n arrogansie waarmee hy kom, want hy wil vrees vestig. Ek sê vandag vir julle dat die liggaam van Christus in vrees vasgevang sit. Op elke terrein van ons lewe het vrees ’n plek gekry en is ons vasgevang. Die wêreld wil half vir jou sê: “Wil jy met jou Woord teen my kom staan? Wil jy met jou God voor my kom staan? Wys vir my waar dit werk” As ons om ons kyk, dan het ons niks om te wys nie. As Goliat vir Dawid sou gevra het om vir hom die manne te wys wat hom ondersteun, dan sou daar niemand gewees het nie. Dawid kyk gelukkig nie na mense nie. Hy staan daar met ’n onverdeelde hart, ingeoefen in sy Vader se hart. Hy weet wat is sy vermoë en hy weet wat is sy Pa se vermoë.
Hoor wat sê Goliat vir Dawid:
1 Sam. 17:42,43,44
Toe die Filistyn opkyk en Dawid sien, het hy hom verag, omdat hy ’n seun was—rooierig, met ’n mooi voorkoms.
En die Filistyn vra vir Dawid: Is ek ’n hond dat jy met stokke na my toe kom? En die Filistyn het Dawid vervloek by sy gode.
Verder sê die Filistyn vir Dawid: Kom na my toe, dat ek jou vlees aan die voëls van die hemel en die diere van die veld kan gee.
Goliat is baie arrogant en hierdie vyand staan daar op grond van ondervinding. Hy staan op veertig dae se ondervinding van hoe sy vrees net groter impak gehad het op die Israeliete. Dit is vrees se karakter. As jy hom toelaat neem dit net toe en toe in jou lewe. Die een ding na die ander ding, want jy bedink dit en jy praat dit en jy begin dit later glo. Goliat het hom egter misgis, want hier staan toe iemand anders voor hom.
Hoor wat sê Dawid vir Goliat.:
1Sa 17:45,46,47
Maar Dawid sê vir die Filistyn: Jy kom na my met ’n swaard en met ’n spies en met ’n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het.
Hy staan nie daar in sy vermoë nie, want hy weet hoe is hy ingeoefen met ’n slingervel, maar dit is nie sy vermoë nie, want hy staan in die Naam van God daar.
Vandag sal die HERE jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou wegneem, en die lyke van die leër van die Filistyne vandag aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde kan gee, sodat die hele aarde kan weet dat Israel ’n God het.
Dan sal hierdie hele menigte moet erken dat die HERE nie deur swaard en deur spies verlos nie; want die stryd behoort aan die HERE, en Hy sal julle in ons hand gee.
Wat ’n “amazing” getuienis. Hy sê: “Jy kom met wapens, maar ek kom na jou in die Naam van God van die slagorde en Hy sal dit doen.” Hoekom? Hy het gesien hoe hy die beer, die leeu en talle rowers of diewe verslaan het. Hy weet dat die vermoë in die Naam van God van die slagorde lê.
Ek het hier ’n klomp teksverse neergeskryf wat handel oor die Naam van Jesus en die outoriteit van die Naam van Jesus wat aan ons toevertrou is. As ons in intimiteit met God gaan stap, gaan ons sy karakter leer ken en ons gaan sy Naam wat alles bevat ontdek. Ons het soveel beloftes. Gaan lees Joh. 14. Daar is so baie tekste wat sê: “As jy iets vra in my Naam, sal Ek dit gee.” Daar is soveel beloftes wat sê: “As jy in my Naam staan kan ek nie anders nie, want dan is Ek verbind aan daardie situasie en Ek moet ’n deurbraak gee.”
Fil. 2:9,10
Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ’n naam gegee wat bo elke naam is,
sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,
Baie dink dat dit eendag is, nee, dit is vandag. As ek en jy uitgesorteer is oor die Naam van Jesus, moet elke knie voor Hom buig of dit finansiële druk is, of vrees, of siektes is of wat ookal, al daardie goed het ’n naam en dit moet buig voor die Naam van Jesus.
Weet julle wat is ons fout? Ons is nie uitgesorteer oor daardie Naam nie. Ek het dit al gesê, maar ek sê dit weer. Weet julle hoeveel mense klassifiseer Christenskap? Dié een is ’n groot Christen en daardie een is ’n “genuine” Christen en daardie een is ’n opregte Christen. Vir my gaan dit daaroor dat jy ’n erfgenaam is van die lewende God. Dit gaan nie oor hoe groot of hoe “nice” jy is voor mense nie, maar dit gaan oor hoe uitgesorteer jy is oor die Naam. Dit is hoekom ek vandag vir jou sê dat ek met my hele hart glo dat Christene met die Naam van Jesus op hulle lippe, vermoor word. Christene word met die Naam van Jesus op hulle lippe beroof en ge-“hijack”. Met die Naam van Jesus op hulle lippe word hulle verkrag. Hoe werk dit? Weet julle hoekom? Want ons bely die Naam van God met ons lippe, maar ons hart is ver van Hom af. Ons bely Hom met ons mond, want dit is die vinnigste en ons kan maklik sê: “In die Naam van Jesus, help,” maar jou hele fondasie is vrees. Dit is waarmee jy vol is, want dit is waarmee jy intimiteit het.
Ek wil jou vanoggend met hierdie woorde wegstuur. Intimiteit bewerk outoriteit en dit werk beide kante toe. As ek intimiteit met vrees het en as ek vrees bedink en as ek vrees praat, dan bewerk ek outoriteit vir vrees.
Ek lees in Joshua hoe die Israeliete Jerigo moes inneem en hoe God hulle die plan gegee het dat hulle moet ingaan en almal voor die voet moes doodmaak. Hulle moes hulle met die ban slaan en hulle mag niks gevat het nie, want anders kom daardie selfde ban op hulle. Later moes hulle gaan en al die goud, silwer en koper vat en na sy huis toe gebring het, want God wou voorspoed in sy huis hê. Die oomblik as iemand praat van voorspoed en dat ons nie in hierdie tyd onder finansiële druk hoef te wees nie, dan kom “prosperity” op en dan is dit verkeerd en dadelik is daar ’n verdeelde hart. Nou kan ons nie verstaan dat ons nie oorwinning kan kry nie.
As dit kom by beskerming en die mense vrees, moord en verkragting praat, kom vrees dadelik op en is daar ’n verdeelde hart. Waarmee hou jy intimiteit? Onthou, die beginsels werk altyd. As jy vrees bedink, moenie dink dat die seën van God en die beskerming van God kan werk nie. As jy armoede bedink en jou daarby berus, moenie dink dat God se voorspoed jou kan bereik nie, want jy beperk dit.
Ons het die Goliat van siekte al aanvaar. Ons hardloop eerder weg daarvan en ons kruip weg agter “God het seker maar ’n plan daarmee…”. Ek praat van die hele liggaam van Christus. Ons het dit geakkommodeer. Die oomblik as dit naby jou lyf kom, dan wil jy bid en dan wil jy hê dit moet gebeur, maar dan gebeur dit nie. Hoekom? Want ons het ’n verdeelde hart.
Ek wil vanoggend vir jou vra? “Waarmee hou jy intimiteit?” Ek praat nie van jou halfuurtjie of tien minute stiltetyd nie. Dit gaan oor wat jy elke dag bedink en wat jy elke dag praat. Waarmee is jou gedagtes vol? Wat akkommodeer jy? Dit waarmee jy intimiteit het, gee outoriteit in jou lewe.
Ek en jy moet weet ons staan in ’n tyd waar ons soos ’n Dawid, met ’n onverdeelde hart sal moet begin opstaan en sê: “Hierdie onbesnede vyand, Goliat, kan mos nie met ons, erfgename van hierdie nuwe verbond, so mee mors nie.”
Ons woon in hierdie land, maar en sommige wil uit die land vlug. Gaan hoor eers hoe gaan dit in ander lande. Die goed waarvan jy hier wil vlug, is soms erger in ander lande. Ek hoor dat in Engeland veertien, vyftienjarige seuns met messe nou die grootste bereiging is en dat mense nie meer met treine kan ry nie. As ons hoor hoe dit oral gaan, sien ons net chaos. Ons moet nie dadelik aan die ontvlugtingsplannetjies dink nie. Ons moet eerder op ’n plek kom waar ons sê: “Here, ek wil in U Naam begin opstaan en ek wil outoriteit begin vat en ek wil begin om in die intimiteit wat ek met U het, te stap,” want dan kan jou situasie begin verander. As tien ouens se situasie begin verander, dan moet ons ’n klomp mense kan beïnvloed en dan moet daar ’n omkeer kom.
Dawid was een, maar was dit vir hom maklik? Nee, beslis nie. Sy broer het hom voor die ander verkleineer, maar Dawid het hom aan niemand gesteur nie, want hy het geweet dat hy weet...
Ons sit vandag hier en ons weet dat ons weet, dat God gekies het om deur my en jou die heerskappy op hierdie aarde te vestig. Die koninkryk moet hier gevestig word deur die mens, maar hoe langer ons in onkunde gaan sit en hoe langer ons in vrees en ontkenning gaan sit, hoe langer gaan die koninkryk wegbly.
Ons moet ophou om die vraagteken agter God te plaas. Hoekom plaas ons nie bietjie die vraagteken agter ons eie lewe nie. Hoe lyk ons “commitment”, hoe lyk ons intimiteit en ywer? Nee, dit word mos altyd voor God se deur gegooi.
Kom, ek en jy staan op as ’n Dawid en ons sê: “Here, ek staan in U Naam...” Elke knie moet voor daardie Naam buig, maar dit sal net buig as jy dit met jou hele hart glo. Dit help nie jou denke kan al die teksverse opsê, maar jou onderbewussyn, jou hele wese is deurtrek met vrees en bekommernis nie. Al hoe jy dit gaan regkry is deur intimiteit en tyd met jou hemelse Pa.
God se oë deursoek hierdie aarde om elkeen kragtig te ondersteun wie se hart onverdeeld op Hom is. Hoe lyk jou hart?
Gebed:
Vader, ons sê vir U dankie dat ons vanoggend sommer na Dawid se getuigskrif kon kyk. Vader, ’n mannetjie wat daar agter skape aangeloop het en hy was nie een wat na die voorste linies geroep is nie, maar Here, daar agter die skape het Hy U ontdek, het hy U betroubaarheid, U krag en U vermoë ontdek en Here, hy het sy hart onverdeeld op U gevestig. Ek glo dit is hoekom U gesê het: “Hy is ’n man so na aan U hart,” want Here, of dit nou reg was of verkeerd was wat hy gedoen het, hy het alles voluit gedoen. Ek wil vir U dankie sê dat ons vanoggend in ’n getuigskrif van Dawid kan sien dat daar ’n oplossing is. Here, dat ons nie hoef weg te hardloop vir die duisternis en mag van geweld en wat ookal ons bedreig nie. Vader ons kan staan in die Naam van Jesus en ons kan soos Dawid, ’n Goliat verslaan. Ons kan soos ’n Dawid ’n hele bende op vlug laat slaan sodat U heerlikheid en U Naam verheerlik kan word. Here, elke keer dat ek gelees het van U Naam het ek gesien dat U U Naam wil vereer. U wil U Naam tot lof laat bring. Vader en U kan dit net deur ons doen. Ek bid dat elkeen van ons wat vandag hier is, sal besef dat U vir ons sit en wag. U het reeds alles vir ons gegee. Here dat ons soos ’n Dawid sal opstaan met ’n onverdeelde hart. Dat ons sal staan vir dit wat ons in U ontdek het. Staan vir dit wat in U hart is. In die Naam van Jesus. Amen.
__________________________________________________________________________
Dikaios Christen Gemeente